Agri Turf

Kontak Agri Turf vir alle pompe, pype, landbou- en tuinbesproeiing. Ons doen ook installasies en herstelwerk in die Noord-Kaap en Vrystaat en is bereid om landswyd te reis. Vir meer inligting, navrae en opmetings, kontak Nelius Marais by 082 559 2244.







Tuesday, September 29, 2009

Wat is besproeiing?

In Suid-Afrika is besproeiing vir die eerste keer na die koms van Jan van Riebeeck in die Kaap toegepas.

Besproeiing kan beskryf word as die kunsmatige toediening met ’n besproeiingstelsel van water aan die grond met die doel om die water wat noodsaaklik is vir die plante te voorsien. Met ander woorde, die regte hoeveelheid water op die regte tyd.

Besproeiingstelsels kan basies in drie tipes ingedeel word, naamlik vloedbesproeiingstelsels, bewegende besproeiingstelsels en statiese besproeiingstelsels.

Kom ons kyk na elkeen afsonderlik asook na die voor- en nadele van die verskillende stelsels.

(Skakel Nelius Marais vir enige navrae of installering van besproeiingstelsels by 082 559 2244.)

Verskillende soorte besproeiingstelsels

Vloedbesproeiingstelsels is stelsels waar water oor die grondoppervlak gevloed word om die grond te benat. Voorbeelde is bedding-, voor-, bak- en kortvoorbesproeiingstelsels. Soos die naam aandui, word water in ’n bedding, voor of bak ingekeer. Die vernaamste voordele is byvoorbeeld lae energie- en kapitale koste, asook die feit dat die gewas nie benat word nie en dus is die voorkoms van blaar- en vrugsiektes minder.

Groot waterverliese kan egter voorkom indien die stelsel nie goed ontwerp en in stand gehou word nie. Verder is hierdie tipe stelsels redelik arbeidsintensief.

Bewegende stelsels is alle stelsels wat beweeg terwyl dit water oor die landoppervlak toedien. Voorbeelde van hierdie tipe stelsels is spilpunte en kruipspuite. Alhoewel die stelsels ’n lae arbeidsbehoefte het, is die stelsels meestal duur.

Statiese stelsels is alle stelsels wat stilstaan terwyl water toegedien word. Voorbeelde van hierdie stelsels is sprinkel- en mikro-besproeiingstelsels.

Sprinkelstelsels kan verder verdeel word in permanente en verskuifbare stelsels. By permanente stelsels word die pype gedurende ’n besproeiingseisoen permanent op een plek gelaat. Daarteenoor word die pype of spuite by verskuifbare stelsels, soos goukoppelpype, sleeplyne en kanonspuite, verskuif.

Alhoewel permanente stelsels baie duurder as verskuifbare stelsels is, is die permanente stelsels nie so windgevoelig as verskuifbare stelsels nie. Verder word gewasse beskadig deur die verskuiwing van pype by verskuifbare stelsels.

Mikro-besproeiingstelsels word weer verdeel in drup- en mikrospuitstelsels. Dié stelsels verskil van sprinkelstelsels deurdat die water in klein hoeveelhede op ’n gereelde grondslag naby die plant se wortels toegedien word in teenstelling met sprinkelstelsels waar die water deur sprinkelaars bokant die grond versprei word.

By mikro-besproeiingstelsels is dit uiters belangrik dat betroubare filters geïnstalleer word om te voorkom dat die spuite verstop. Alhoewel druppers glad nie windgevoelig is nie, is die bestuur van die stelsels baie belangrik aangesien slegs ’n gedeelte van die besproeiingsblok benat word.

(Skakel Nelius Marais vir enige navrae of installering van besproeiingstelsels by 082 559 2244.)

Die vraag is nou hoe moet die boer op ’n stelsel besluit.

So kies jy die beste stelsel vir jou behoeftes

Die keuse van watter besproeiingstelsel om in ’n spesifieke geval te gebruik, is nie maklik nie, aangesien verskeie stelsels ’n wye toepassingsveld het. Verskeie faktore speel ’n rol, soos watergehalte, die tipe grond wat besproei gaan word, die helling van die besproeiingsland, watter gewas besproei gaan word, hoeveel arbeid beskikbaar is en natuurlik hoeveel geld jy as boer beskikbaar het.

Die belangrikste is egter jou eie persoonlike oorwegings - met watter stelsel wil en kan jy besproei. Jy sal dus met my saamstem dat jy ’n kundige op die gebied van besproeiing moet raadpleeg indien jy ’n besproeiingstelsel wil aankoop.

Indien jy nou op ’n stelsel besluit het, is die installering daarvan baie belangrik. Ondergrondse pyplyne moet diep genoeg gelê word sodat dit nie deur grondbewerkingspraktyke beskadig word nie. Verder is dit baie belangrik om die pype volgens plan en die spesifikasies van die vervaardiger te lê.

Aftapkrane moet uit die pad uit en met ’n helder kleur geverf word sodat dit nie raakgery word nie. Dit is ook raadsaam om permanente merkers op geskikte plekke bo-op die grond te plaas om die posisie van die ondergrondse pyplyn aan te dui.

Die onderhoud van ’n besproeiingstelsel is ook belangrik, want ’n besproeiingstelsel word vir die gewas se leeftyd ontwerp.

Die volgende moet beslis gedoen word:

* Krane wat lek moet reggemaak word,
* rubbers van goukoppelpype moet vervang word, en
* die poliëtileenlyne van mikrostelsels moet gereeld gespoel word.

’n Logiese volgende vraag is natuurlik: Hoe weet ek wanneer en hoeveel om te besproei?

Die maklikste manier om dit vas te stel, is om ’n gat in die land te grawe en te voel hoe nat die grond is. Daar is ook sensors wat die grondvog meet, maar in dié geval sal ek aanraai dat jy jou plaaslike voorligtingsbeampte om hulp vra.

(Skakel Nelius Marais vir enige navrae of installering van besproeiingstelsels by 082 559 2244.)